Venootskap vir Gestuurde Gemeentes

Augustus 2000 sluit die gemeente aan by die Vennootskap vir Gestuurde gemeentes. ‘n Inisiatief van BUVTON.  Aanvanklik was ons saam met 17 gemeentes  in die Weskaap wat aan die vennootskap ooreenkoms deelgeneem het. Wolseley, Goudini, Prince Alfred’s Hamlet, Paarlberg, Stellenbosch Moeder, Durbanville en Vredenburg was saam opgedeel in 1 “Cluster”.   Vanweë sy betrokkenheid by Vredenburg, het die Here vir Ds van Velden toe al voorberei om na Ds Crous voort te gaan in ons gemeente met die vennootskap.  (Terloops:  Die lidmaat wat Ds van Velden genomineer het, het hom glad nie geken nie en was ook nie deel van die taakspan nie – ‘n bewys van die Heilige Gees se leiding)

Sondag, 23 April 2006 vier die gemeente haar Gemeentebelydenis :

Ons is die Drie-enige God se leivore waardeur die Lewende Water oor skeidings heen vloei tot lewe en groei”, asook haar visie vir aksie: “Die Here stuur ons elkeen om Sy beeld, na almal wat dors is, sόuit te leef dat hulle Sy verlossing en liefde sal ervaar.

Ds Crous skryf ook die woorde van ons Visie-lied op die wysie van die Hallelujalied, “Wat ‘n vriend het ons in Jesus”

Voortaan sal elke kommissie en kerkraad hul besluite rondom hierdie belydenis neem. Praktiese reëlings soos: op elke agenda word die belydenis gedruk en elke kommissie kry die geleentheid om hul eie visie op te stel wat aanpas by die gemeente s’n. Kerkraadsvergaderings word geopen met “Wandel deur die Woord” waartydens die lede van die kerkraad die geleentheid kry om na mekaar te luister en dit wat hulle gehoor het bymekaar, namens mekaar oor te dra na die res van die kerkraad. Wyksbidure word ook gewy aan onderwerpe soos, verskillende spiritualiteitstipes en diensbaarheid, sodat ons as kerkfamilie mekaar beter kan verstaan.